Die “heading” sê eintlik als wat ek wil sê – volgende keer bly julle net langer en kom sommer vroeër.
Moenie slaai bring nie
Uncategorized 6:30 nm
Die “heading” sê eintlik als wat ek wil sê – volgende keer bly julle net langer en kom sommer vroeër.
Moenie slaai bring nie
Uncategorized 3:21 nm
Oor sowat ‘n week, om spesifiek te wees, op die 31e Oktober, word Cat se mangels uitgehaal. Sy is gereeld so eenkeer ‘n maand siek van die goed en het ons toe besluit dat genoeg is genoeg. Vanoggend kla sy haar keel is seer en my moed sak in my skoene, want sy moet gesond wees as hulle haar die teater instoot. Het haar toe maar gou Augmentin ingejaag en hoop nou maar dat sy ten minstens net sal hou tot volgende week sonder om WEER mangelontsteking te kry, want die damn goed maak my mal en as sy nou siek raak is dit weer ‘n maand se wag.
Gisteraand het sy gesê dat sy dit nie meer wil laat uithaal nie. Tot nou toe was sy nog heel happy om dit te laat uithaal en soos die duiwel dit nou mos maar wil hê begin ek nou ook twyfel, want sê nou maar net iets gebeur met my kind en dan sit ek met hierdie skuldgevoel dat dit ek was wat haar “gedwing” het om haar mangels te laat uithaal! En ’n ma gaan haal mos maar altyd die bobbejaan daar doer agter die bult en nou begin ek ook spoke opjaag.
Ek wonder of my ma ook so ge-worry het toe ons mangels uitgehaal moes word……
Uncategorized Add new tag 3:28 nm
Saterdag was skoolkonsert tyd.
Die outjies vanaf 3 tot 5 jaar het elke klassie ‘n land verteenwoordig. Vanaf Heidi en Peter tot die eskimo’s het trots op die verhoog gepronk. Die heel kleintjies was ‘n deurmekaar rondskarrel op die verhoog, maar hulle het dit gate uit geniet.
Die groter outjies se passies was maar nog ook effe onseker, maar die gesiggies het gestraal en kort-kort het een vir mamma en pappa vanaf die verhoog gewaai.
Cat-hulle se klassie het Japan verteenwoordig. Die dogtertjies het fyn japanese dansies uitgevoer terwyl die “manne” hulle karate-moves ten toon gestel het.
Daarna is hulle uit die “klein skool” sterkte toegewens vir die groot skool volgende jaar deur ‘n sertifikaat uitdeling. Die gesiggies het gestraal en tandlose bekkies het orals geglimlag vir die kameras.
Voor jy jou oë uitvee, is dit dalk ‘n gradeplegtigheid en wonder jy waar die jare tussen-in heen gevlieg het………
Uncategorized 7:05 nm
Ons het vandag my ouers gehelp om een en andere na hulle nuwe tuiste te trek. Wel, eintlik was dit net my pa se stuff, want ma s’n is al alles amper daar en die res word Maandag deur die trek-mense getrek. Maar terug by my pa se stuff. Drie sleepwaentjies vol (en dit was ‘n 3m sleepwa)! En dan is daar seker nog omtrent drie sleepwaentjies vol wat genadiglik ook Maandag eers deurkom. Vir iemand wat nou op pensioen is het hy BAIE stuff. Allerhande goed – van stukke hout en ysters tot selfgemaakte gereedskap (wat hy seker omtrent 20 jaar gelede gebruik het, maar hou, hou hy dit).
En dit is fyn by my. Want sien, sowat 10 jaar gelede is my oupa en ouma baie teensinnig ouetehuis toe. My ouma was al blind en oupa se hart het so gepla dat hy nie meer na ouma kom omsien nie. Tot vandag toe onthou ek hoe die twee ou mensies by hulle kombuistafel gesit en toekyk het hoe ons hulle goedjies uitsorteer het, eenkant in bokse gepak het en ou stukkende goed weggegooi het. En tot vandag toe kan ek myself nie vergewe daarvoor nie. Ja, hulle moes ouetehuis toe en wat moes ons met hulle goedjies gedoen het? Dis hartseer, maar ongelukkig seker een van die lewe se realiteite. Maar ek het destyds my les geleer.
Vandag het ek elke geroeste skroefie wat my pa wou pak, gepak en opgelaai. Want dit is SY stuff en dinge wat al vir baie jare saam met hom kom. Dis wat hom my pa maak. Hy gooi NIKS weg nie en moes seker eerder op ‘n plaas gaan bly het om plek vir alles te hê, maar al staan alles omtrent orals rond, ek gee nie om nie, want dis wat hy wil hê. Dis wat hom gelukkig maak.
En eendag, sal ek en my broer ook seker (soos my pa 10 jaar gelede met sy pa moes doen) ook sy garage moet ingaan en begin uitsorteer en wegmaak. Maar ek belowe, dit sal NIE wees terwyl hy nog lewe nie, want sy stuff is sy stuff en as hy drie garages vol van dit nodig het – wel wie is ek om iets daaroor te sê?
Hy sê per slot van rekening niks oor my kas vol skoene of laaie vol juwele nie – hy skud net sy kop en sê vir my ma dat daai dogtertjie van haar nie lekker in die kop is nie.
Die appel val seker maar nie ver van die boom af nie………
Uncategorized 10:27 vm
Gebeur dit met jou ook?
Jy wil iets vas stapler (’skuus, seker kram), maar die stapler is leeg. Of jy gryp gou na ‘n potlood, maar die punt is af. Of die naaste pen wat jy in die hande kry om vinnig iets neer te skryf, weier om te skryf.
Jy besluit om gou toilet toe te gaan en halfpad die gang af, lui jou foon! Dis heeltyd stil, maar wanneer jy besluit om gou iewers heen te wil gaan, is almal skielik opsoek na jou.
En dan die GROOT sonde: Jy gooi iets weg wat in maande nie gebruik is nie – en ‘n dag daarna het jy dit nodig.
Jy kanselleer jou korttermyn versekering wat jy al jare lank het sodat jy kan geld spaar, en die volgende week breek hulle by jou in of jou kar word gesteel.
Jy gaan op vakansie, by die see. Vir die voorafgaande maand hou jy die weer fyn dop – geen reën. Die Saterdagmiddag wat jy voor die hotel stop, trek die wolke saam en vir die eerste drie dae van jou vakansie reën dit. Dit nadat hulle nie plek gehad het vir jou die vorige week wat jy eintlik wou gaan nie.
Is dit “bad” karma wat jou volg? Toeval (iets waaraan ek NIE glo nie)? Of sommer maar net “life”?!
Uncategorized 3:01 nm
Ek sien dis volmaan. Nou wonder ek of die maan ook op mense ‘n invloed het. Op hulle gedrag, hulle gevoelens en optredes.
En is daar ‘n groter invloed op mans; of op vrouens? Want party mans raak skoon simpel hier naby volmaan (en dan praat hulle van pms!). PMS se gat man, mans lei aan stingel stress en kom volmaan is hulle so mal soos die lang-oor-haas wat saans op my grasperk sit en my huis aanstaar (maar dis ‘n storie vir ‘n ander keer).
Dan hier na ‘n paar dae, is alles weer sommer so uit die bloute, ”honky-dory” en moet almal rondom hulle maar net weer inval by hulle nuwe verligte bui. Dis dan wanneer ek hulle maan toe wens met ‘n enkel kaartjie.
Men are NOT from mars and women NOT from Venus. Men are from the moon and women should have stayed alone on earth and only invite the “aliens” over once in a blue moon!
Uncategorized 5:43 vm
Vanoggend toe ek opstaan kon ek waarlik vir die eerste keer aan jou totsiens sê en laat gaan. Wanneer dit presies gebeur het, weet ek nie. Hoe dit gebeur het, weet ek nog minder.
Maar ek besef dat ek nog lewe en ‘n lewe het om te lei en dat dit jou tyd was om aan te beweeg.
Ek is jammer dit het my so lank geneem om te aanvaar, maar ek is gelukkig in die wete dat jy gelukkig is daar by Hom.
Jou vriendskap het baie vir my beteken – ek het oneindig baie by jou geleer.
Rus in vrede, Judy (alhoewel ek nie myself kan indink dat jy daarbo stil sit en niks doen nie) – tot ons weer ontmoet.
Uncategorized 7:47 vm
Hulle sit in jou kantoor, omrede hulle nie werk het nie. Die baas is uit en blykbaar het hulle niks beters om te doen as om jou te kom sit en irriteer nie. Jy ignoreer hulle, maar hulle SIT. Hulle gesels vrolik met mekaar oor ditjies en datjies wat jou tot in die grond toe verveel.
Hoekom is party mense so dikvellig? Of gee hulle eenvoudig net nie om vir ander se privaatheid nie? Dink hulle ek gee om, of stel belang in hulle sinlose gesprekke? As jy nie werk het nie, dan lyk jy ten minstens besig: in jou EIE kantoor. Dis nie te sê omdat myne so groot is, daar is plek vir idiote om op my stoele te kom lê en klets nie.
Gaan weg en kom weer terug as jy werk het wat jy wil bespreek, want jy irriteer my en vryf my verkeerd op. Jou skimpe en simpel, flou grappies is dalk vir jou vriendinne snaaks, maar ons is geensins op dieselfde golflengte nie. So f-off uit my kantoor uit en gaan lyk ten minstens besig in jou eie.
Met liefde
Uncategorized 10:35 vm
‘n Wit trourok lê uitgesprei oor die dubbelbed. Wit hoë hak sandale lê op die vloer en wag, terwyl die bloedrooi aandrok in ‘n bondeltjie daarnaas rus. ’n Rugsak is vol gestop met haarrekkies, handsakkies, beursies en klere vir die pad.
Iemand praat. Eers saggies, dan harder. ’n Stoute kind kry raas omdat sy nie wil stil sit nie en boetie en sussie word gevra om die klere van die vloer af op te tel, voor hulle pak kry. ’n Babatjie word vinnig getroos as sy huilend wakker raak van al die geskarrel rondom haar. Almal word in die pienk kar ingebondel, want hulle is laat en mamma moet vinnig maak.
Dan word die (oorgroot) trourok en (heeltemal te groot) skoene aangetrek en ‘n handsak gekies. Die handsak word weer teruggesit, want die kleur is nie reg nie. ‘n Troue word gehou en die bruid kom stralend by die kerkdeur uitgestap, maar voordat die bruid uitkom en my dalk opmerk (en dalk dink dat ek haar afloer), sluip ek saggies weg……….
En ek is gelukkig in die wete dat daar nog baie jare van verbeeldingsvlugte uit die pienk kamer gesweef gaan kom, want sy’s nou eers vyf.
Uncategorized 8:44 vm
Is dit verkeerd om meer as een paar sandale in dieselfde kleur te hê? Is dit, for that matter, verkeerd om meer as een paar sandale te hê? En is my meer as een paar toe-toon hoë hak skoene ook verkeerd? En hoeveel “platforms” is genoeg? Wat van plat skoene, jy weet, dié sonder hoë hakke, met die oop tone en oop hakke. En mag ek meer as een paar “boots” hê (in dieselfde kleur)? In my verdediging, die een se hak IS hoër as die ander een.
Ek is mal oor skoene. Ek gaan nie sê hoeveel ek het nie, maar dis baie. Genoeg om my man sy oë te laat rol, maar soos ek hom altyd mooi herinner, hy kan bly wees ek versamel nie drank bottels (nadat ek hulle uitgedrink) het nie.
Wat is dit met mooi skoene wat sekere vrouens aantrek en ander heeltemal koud laat? En is daar dalk ‘n dieper, sinistere rede agter die “urge” om soveel mooi skoene te wil besit? Of is dit iets wat jy by jou ma gesien het? My ma het (toe sy jonger was) ook baie skoene gehad. Mooi skoene. Nog in hulle bokse. Ek onthou sulke navy skoene met goue insetsels in haar kas. En groenes. En wittes. Bruines en swartes. Die mooiste goed met die mooiste detail (daardie jare is alles nog met sorg vervaardig). En ek onthou hoe ek as ‘n klein dogtertjie (so 5 of 6) altyd voor haar kas gaan sit het, en myself ure kon vermaak met haar skoene. Ek het dit uit die bokse gehaal, dit aangepas, myself verbeel ek is ‘n lugwaardin of sakevrou. Dit dan weer teruggesit en ‘n nuwe paar uitgehaal en verder fantaseer. Nou vind ek kort-kort my 5-jarige dogtertjie in my skoene kas….
Dalk begin dit alles met Cinderella se glas slippertjie…….