Dis nie meer belangrik nie Woensdag, Nov 26 2008 

Ek sit vanaand weer so ‘n bietjie en blog-hopping doen, siende dat daar nie veel op TV is nie. Ek bekommer my oor my pa wat gewig verloor, bleek en moeg daar uitsien en vandag vir my “oud” gelyk het.  Hy gaan môre vir bloedtoetse en ek hoop alles gaan ok wees. Ek is “sad” oor iets wat met iemand baie naby aan my gebeur het en waaroor ek geen beheer het nie. Ek kan nie verstaan hoekom iemand ‘n blog skryf wat ander aanval oor ‘n onskuldige opmerking nie. Ek kan nie verstaan hoe iemand so te kere kan gaan oor iemand anders se opinie nie – dis tog sekerlik net ‘n ander persepsie as jou eie. Ek wonder hoekom so baie van die ou bloggers nie meer so gereeld blog nie. En ek wonder hoekom ek nog soms blog?  Stel die ander bloggers werklik belang in jou lewe of in dit wat jy te sê het?  Gesiglose skrywers wat hul eie mening op hul eie blogs die lig laat sien – stel hulle werklik belang of post hulle net by jou met die hoop dat jy na hulle blog sal gaan en daar sal post?  Post jy iewers met die hoop dat iemand na jou site sal kom, of stel jy werklik belang? Beteken jou comment veel meer as die hoop dat daardie persoon jou site sal kom besoek? Soms twyfel ek.  As jy iets op die hart het, deel dit met die mense na aan jou.  Waarom dit deel met vreemdelinge wat nie werklik ‘n idee het van wie jy is of wat die omstandighede is nie.

Blogging, nes Facebook is totally overrated. Wat iets beteken is menslike kontak, persoonlike vriende, ‘n eggenoot wat luister en tyd saam met die mense vir wie jy lief is.

Want glo my, die helfte van die ouens wat jou blog lees, voel ‘n veer vir jou geluk of tragedie.

Umhlanga, heerlike Umhlanga Saturday, Nov 15 2008 

Reg, ons is sopas terug van ‘n heerlike week in Umhlanga, die weer het baie mooi saamgespeel en almal het dit vreeslik baie geniet.  Saam met my vakansie het ek terug gebring ‘n heerlike ou verkoue en verstuite vinger.  Laasgenoemde het ek opgedoen toe ek en Cat by een van UShaka World se slides afgekom het en dinge so effe rof geraak het. Die verkoue – wel, seker by een of ander kind wie sy kieme in my rigting geblaas het.

Gistermiddag het ons so ‘n blits storm beleef van sowat 5 minute.  Twee van die hotel se sonsaambrele het op die hotel langsaan se derde verdieping te lande gekom in die wind.  En dit was die enigste reën wat ons in die dag beleef het by die see. Ons velle is lekker gebrand en die proses van vervelling het alreeds begin (jippie, ek hou nogals van die brandsiek-effek)…..

Nou ja, Maandag is dit terug werk toe, waar ‘n hele tafel seker vir my onder die papiere lê en wag!

Ek dink ek het ‘n vakansie nodig.

Self ondersoek Woensdag, Nov 5 2008 

Iemand het eendag gesê dat jy jouself moet omring deur mense soos wat jy graag sal wil wees. Soms werk dit net nie so lekker nie.

Ek het vandag met iemand gesels wat ek amper 17 jaar laas gesien het. En in ons gesprek herinner hy my toe aan die persoon wat ek destyds was en met ’n skok besef ek dat ek verander het. VREESLIK baie verander het.  Weens gebeure, weens persone, weens keuses, weens myself. En meteens mis ek die persoon wie ek toe was. 

Ek wens ek het in sekere opsigte nie verander nie. Ek wens daar was nog ‘n deel van my wat daardie persoon was. Kan ‘n mens weer terug verander na wie jy was?

Dankie dat jy my vandag weer herinner het wie ek was – wie ek wou wees. Jy het my baie gegee om oor te dink (nes destyds) en hopelik vind ek darem nog iewers hier binne-in my, ”my ou self”.