Terwyl ek toekyk hoe my dogtertjie haar shotokan kata oefen wonder ek hoe enige mens by sy of haar volle verstand vyfjariges karate kan leer. Dit verg moed. Baie moed. Die vertrek weergalm van haar kata-kreet saam met elke beweging, terwyl sy ernstig vir haarself in die spieël kyk om seker te maak dat die regte beweging (of wat hulle dit ookal noem) gedoen word saam met die regte kreet.
Oormôre is dit ballet. Dan sit ek weer en kyk hoe sy fyntjies op haar toontjies rondtrippel en vlinders in die lug vang. Hoe sy rooikappie en die wolf woordeloos dramatiseer en haarself daarin uitlewe. En ek wonder hoe enige mens by sy volle verstand vyfjariges ballet kan leer. Dit verg ook moed. Baie moed.
En dan kom die besef dat sekere mense daarvoor in die wieg gelê is. Om kindertjies geduldig te leer van karate houe en ballet posture. En ek haal my hoed af vir hulle. Vir elke iedere en een wat met geduld kindertjies iets nuut in die lewe leer.
Nou wonder ek net hoekom my kind soveel soeter by hulle is as by my, want die kind wat hulle beskryf in hulle klasse, raak iewers verlore tussen die skool en die huis!


