Asof dit nie genoeg is dat die vleipaddas die hele blêddie nag hulle koor oefeninge moet doen nie, het die tarentale nou opslag besluit dat hulle ook hul Kersspele wil begin oefen. ‘n Stuk of tien kom dan vrolik op ons muur sit en “serenade” ons so vanaf vier in die oggende. Vanoggend het kraai besluit dat tarentaal se kind op sy gebied oortree en het luidkeels vanaf ‘n ander erf die tarentale sit en uitkryt.
Dis toe dat ek besluit, genoeg is genoeg en wou net die spulle verwilder toe ek die mal haas gewaar. Die einste haas wat kort-kort op my grasperk kom sit en my huis aanstaar. Die een met die lang ore en glasige oë wat vir my deur my venster sit en aanstaar. Vanoggend toe staar ek maar terug en wonder by myself wat de hel die haas se storie is. En so kyk ek en haas vir mekaar - vier uur in die oggend terwyl die kraai op die tarentale skree en die tarentale bo die vleipadda koor probeer uitstyg.
En dis toe dat ek besef dat haas nie mal is nie, hy wil inkom! Hy smeek my met sy glasige ogies om tog asseblief die deur oop te maak sodat hy die kakkefonie van buite kan ontsnap.
Wel haas, die klank binne is net so erg soos buite - dis seker hoekom hulle dit ‘n eco park noem. En dis seker hoekom jy maar rustig aan my grasperk mag kou en hoekom die tarentale sommer so verby my swembad en oor my voorstoep kan wals. Hoekom die kraai voel dat hy ook ‘n plekkie op my muur moet kry en die vleipaddas nie skroom om ‘n bietjie sagter te kwaak nie. En hoekom die zebra’s die bure se boom blare afkou en die bokke op my sypaadjie kom bollie.
PS: Haas, my man en Cat vra om verskoning omdat hulle jou so laat skrik het gister op die wandelpad – jy het blykbaar gehol dat jou ore so plat lê!



Oktober 28, 2008 at 11:39 vm