‘n Tweede kans Woensdag, Oct 29 2008 

Dis koud. En donker. Vroegoggend, terwyl meeste rustig slaap. Hier waar ek stadig teen die trappe opklim en luister na die fynste geluidjie lyk die koue nag daar buite skielik heelwat meer aanloklik.  Ek probeer saggies asemhaal – hel, ek probeer glad nie asem haal nie.  By die laaste trap huiwer ek ietwat, links of regs? Ek besluit op regs, maar regs lewer niks behalwe leë kamers op nie. Ek laat my asem stadig uit – rondte nommer twee. Verder die gang af, tot by die toe deur. Ek ken die prosedure, weet wat om te doen. Ek haal diep asem, gaan vinnig en gebukkend die kamer binne en laat instink en opleiding oorneem. Die kamer is ook leeg. 

Waar is hy? 

Ek draai om. ‘n Flitslig kom stadig die trappe op. Ek wag. “Dis skoon”, sê ek. Hy knik, draai om en verdwyn weer in die donker.

Dan skielik rys die haartjies op my nek en ek weet. Dis te laat. ‘n Fout gaan my, my lewe kos. Ek draai stadig om, want vir een of ander rede weet ek hy wag om my gesig te sien. Hy staan daar en kyk vir my asof iemand ons aan mekaar wil voorstel. Sonder enige gevoel op sy gesig – met leë oë wat geen boodskap oordra nie.  En ek wonder meteens wat hy in my oë lees?

Dit sal nie sy eerste keer wees nie. Ook nie myne nie, maar vir een van ons gaan dit beslis die laaste keer wees…..

Iets-nie-san-shie-gô Tuesday, Oct 28 2008 

Terwyl ek toekyk hoe my dogtertjie haar shotokan kata oefen wonder ek hoe enige mens by sy of haar volle verstand vyfjariges karate kan leer.  Dit verg moed. Baie moed. Die vertrek weergalm van haar kata-kreet saam met elke beweging, terwyl sy ernstig vir haarself in die spieël kyk om seker te maak dat die regte beweging (of wat hulle dit ookal noem) gedoen word saam met die regte kreet.

Oormôre is dit ballet. Dan sit ek weer en kyk hoe sy fyntjies op haar toontjies rondtrippel en vlinders in die lug vang. Hoe sy rooikappie en die wolf woordeloos dramatiseer en haarself daarin uitlewe. En ek wonder hoe enige mens by sy volle verstand vyfjariges ballet kan leer. Dit verg ook moed. Baie moed.

En dan kom die besef dat sekere mense daarvoor in die wieg gelê is. Om kindertjies geduldig te leer van karate houe en ballet posture. En ek haal my hoed af vir hulle. Vir elke iedere en een wat met geduld kindertjies iets nuut in die lewe leer.

Nou wonder ek net hoekom my kind soveel soeter by hulle is as by my, want die kind wat hulle beskryf in hulle klasse, raak iewers verlore tussen die skool en die huis! :roll:

Vleipaddas, tarentale, kraaie en die haas Maandag, Oct 27 2008 

Asof dit nie genoeg is dat die vleipaddas die hele blêddie nag hulle koor oefeninge moet doen nie, het die tarentale nou opslag besluit dat hulle ook hul Kersspele wil begin oefen.  ‘n Stuk of tien kom dan vrolik op ons muur sit en “serenade” ons so vanaf vier in die oggende.  Vanoggend het kraai besluit dat tarentaal se kind op sy gebied oortree en het luidkeels vanaf ‘n ander erf die tarentale sit en uitkryt. 

Dis toe dat ek besluit, genoeg is genoeg en wou net die spulle verwilder toe ek die mal haas gewaar.  Die einste haas wat kort-kort op my grasperk kom sit en my huis aanstaar.  Die een met die lang ore en glasige oë wat vir my deur my venster sit en aanstaar.  Vanoggend toe staar ek maar terug en wonder by myself wat de hel die haas se storie is. En so kyk ek en haas vir mekaar - vier uur in die oggend terwyl die kraai op die tarentale skree en die tarentale bo die vleipadda koor probeer uitstyg.

En dis toe dat ek besef dat haas nie mal is nie, hy wil inkom! Hy smeek my met sy glasige ogies om tog asseblief die deur oop te maak sodat hy die kakkefonie van buite kan ontsnap.

Wel haas, die klank binne is net so erg soos buite - dis seker hoekom hulle dit ‘n eco park noem. En dis seker hoekom jy maar rustig aan my grasperk mag kou en hoekom die tarentale sommer so verby my swembad en oor my voorstoep kan wals.  Hoekom die kraai voel dat hy ook ‘n plekkie op my muur moet kry en die vleipaddas nie skroom om ‘n bietjie sagter te kwaak nie. En hoekom die zebra’s die bure se boom blare afkou en die bokke op my sypaadjie kom bollie.

PS: Haas, my man en Cat vra om verskoning omdat hulle jou so laat skrik het gister op die wandelpad – jy het blykbaar gehol dat jou ore so plat lê!

   

Kom gerus weer…. Sunday, Oct 26 2008 

Die “heading” sê eintlik als wat ek wil sê – volgende keer bly julle net langer en kom sommer vroeër.

Moenie slaai bring nie :lol:

Die mangel mannewales Thursday, Oct 23 2008 

Oor sowat ‘n week, om spesifiek te wees, op die 31e Oktober, word Cat se mangels uitgehaal.  Sy is gereeld so eenkeer ‘n maand siek van die goed en het ons toe besluit dat genoeg is genoeg.  Vanoggend kla sy haar keel is seer en my moed sak in my skoene, want sy moet gesond wees as hulle haar die teater instoot.  Het haar toe maar gou Augmentin ingejaag en hoop nou maar dat sy ten minstens net sal hou tot volgende week sonder om WEER mangelontsteking te kry, want die damn goed maak my mal en as sy nou siek raak is dit weer ‘n maand se wag.

Gisteraand het sy gesê dat sy dit nie meer wil laat uithaal nie.  Tot nou toe was sy nog heel happy om dit te laat uithaal en soos die duiwel dit nou mos maar wil hê begin ek nou ook twyfel, want sê nou maar net iets gebeur met my kind en dan sit ek met hierdie skuldgevoel dat dit ek was wat haar “gedwing” het om haar mangels te laat uithaal! En ’n ma gaan haal mos maar altyd die bobbejaan daar doer agter die bult en nou begin ek ook spoke opjaag.

Ek wonder of my ma ook so ge-worry het toe ons mangels uitgehaal moes word……  

 

Al die kinders van die wêreld Woensdag, Oct 22 2008 

Saterdag was skoolkonsert tyd.

Die outjies vanaf 3 tot 5 jaar het elke klassie ‘n land verteenwoordig. Vanaf Heidi en Peter tot die eskimo’s het trots op die verhoog gepronk. Die heel kleintjies was ‘n deurmekaar rondskarrel op die verhoog, maar hulle het dit gate uit geniet.

Die groter outjies se passies was maar nog ook effe onseker, maar die gesiggies het gestraal en kort-kort het een vir mamma en pappa vanaf die verhoog gewaai.

Cat-hulle se klassie het Japan verteenwoordig. Die dogtertjies het fyn japanese dansies uitgevoer terwyl die “manne” hulle karate-moves ten toon gestel het.

Daarna is hulle uit die “klein skool” sterkte toegewens vir die groot skool volgende jaar deur ‘n sertifikaat uitdeling. Die gesiggies het gestraal en tandlose bekkies het orals geglimlag vir die kameras.

Voor jy jou oë uitvee, is dit dalk ‘n gradeplegtigheid en wonder jy waar die jare tussen-in heen gevlieg het………

How much stuff do you need? Saturday, Oct 18 2008 

Ons het vandag my ouers gehelp om een en andere na hulle nuwe tuiste te trek.  Wel, eintlik was dit net my pa se stuff, want ma s’n is al alles amper daar en die res word Maandag deur die trek-mense getrek. Maar terug by my pa se stuff.  Drie sleepwaentjies vol (en dit was ‘n 3m sleepwa)! En dan is daar seker nog omtrent drie sleepwaentjies vol wat genadiglik ook Maandag eers deurkom.  Vir iemand wat nou op pensioen is het hy BAIE stuff. Allerhande goed – van stukke hout en ysters tot selfgemaakte gereedskap (wat hy seker omtrent 20 jaar gelede gebruik het, maar hou, hou hy dit).

En dit is fyn by my.  Want sien, sowat 10 jaar gelede is my oupa en ouma baie teensinnig ouetehuis toe. My ouma was al blind en oupa se hart het so gepla dat hy nie meer na ouma kom omsien nie. Tot vandag toe onthou ek hoe die twee ou mensies by hulle kombuistafel gesit en toekyk het hoe ons hulle goedjies uitsorteer het, eenkant in bokse gepak het en ou stukkende goed weggegooi het. En tot vandag toe kan ek myself nie vergewe daarvoor nie.  Ja, hulle moes ouetehuis toe en wat moes ons met hulle goedjies gedoen het? Dis hartseer, maar ongelukkig seker een van die lewe se realiteite.  Maar ek het destyds my les geleer.

Vandag het ek elke geroeste skroefie wat my pa wou pak, gepak en opgelaai.  Want dit is SY stuff en dinge wat al vir baie jare saam met hom kom.  Dis wat hom my pa maak.  Hy gooi NIKS weg nie en moes seker eerder op ‘n plaas gaan bly het om plek vir alles te hê, maar al staan alles omtrent orals rond, ek gee nie om nie, want dis wat hy wil hê.  Dis wat hom gelukkig maak. 

En eendag, sal ek en my broer ook seker (soos my pa 10 jaar gelede met sy pa moes doen) ook sy garage moet ingaan en begin uitsorteer en wegmaak.  Maar ek belowe, dit sal NIE wees terwyl hy nog lewe nie, want sy stuff is sy stuff en as hy drie garages vol van dit nodig het – wel wie is ek om iets daaroor te sê? 

Hy sê per slot van rekening niks oor my kas vol skoene of laaie vol juwele nie – hy skud net sy kop en sê vir my ma dat daai dogtertjie van haar nie lekker in die kop is nie.

Die appel val seker maar nie ver van die boom af nie………

Waar’s my staplers? Thursday, Oct 16 2008 

Gebeur dit met jou ook?

Jy wil iets vas stapler (’skuus, seker kram), maar die stapler is leeg.  Of jy gryp gou na ‘n potlood, maar die punt is af.  Of die naaste pen wat jy in die hande kry om vinnig iets neer te skryf, weier om te skryf.

Jy besluit om gou toilet toe te gaan en halfpad die gang af, lui jou foon! Dis heeltyd stil, maar wanneer jy besluit om gou iewers heen te wil gaan, is almal skielik opsoek na jou. 

En dan die GROOT sonde: Jy gooi iets weg wat in maande nie gebruik is nie – en ‘n dag daarna het jy dit nodig.

Jy kanselleer jou korttermyn versekering wat jy al jare lank het sodat jy kan geld spaar, en die volgende week breek hulle by jou in of jou kar word gesteel.

Jy gaan op vakansie, by die see.  Vir die voorafgaande maand hou jy die weer fyn dop – geen reën.  Die Saterdagmiddag wat jy voor die hotel stop, trek die wolke saam en vir die eerste drie dae van jou vakansie reën dit. Dit nadat hulle nie plek gehad het vir jou die vorige week wat jy eintlik wou gaan nie.

Is dit “bad” karma wat jou volg? Toeval (iets waaraan ek NIE glo nie)? Of sommer maar net “life”?!

 

Met die maan gepla…. Woensdag, Oct 15 2008 

Ek sien dis volmaan. Nou wonder ek of die maan ook op mense ‘n invloed het. Op hulle gedrag, hulle gevoelens en optredes.

En is daar ‘n groter invloed op mans; of op vrouens?  Want party mans raak skoon simpel hier naby volmaan (en dan praat hulle van pms!). PMS se gat man, mans lei aan stingel stress en kom volmaan is hulle so mal soos die lang-oor-haas wat saans op my grasperk sit en my huis aanstaar (maar dis ‘n storie vir ‘n ander keer).

Dan hier na ‘n paar dae, is alles weer sommer so uit die bloute, ”honky-dory” en moet almal rondom hulle maar net weer inval by hulle nuwe verligte bui. Dis dan wanneer ek hulle maan toe wens met ‘n enkel kaartjie.

Men are NOT from mars and women NOT from Venus.  Men are from the moon and women should have stayed alone on earth and only invite the “aliens” over once in a blue moon!

 

Totsiens Tuesday, Oct 14 2008 

Vanoggend toe ek opstaan kon ek waarlik vir die eerste keer aan jou totsiens sê en laat gaan. Wanneer dit presies gebeur het, weet ek nie. Hoe dit gebeur het, weet ek nog minder. 

Maar ek besef dat ek nog lewe en ‘n lewe het om te lei en dat dit jou tyd was om aan te beweeg.

Ek is jammer dit het my so lank geneem om te aanvaar, maar ek is gelukkig in die wete dat jy gelukkig is daar by Hom.

Jou vriendskap het baie vir my beteken – ek het oneindig baie by jou geleer.

Rus in vrede, Judy (alhoewel ek nie myself kan indink dat jy daarbo stil sit en niks doen nie) – tot ons weer ontmoet.

Volgende Blad »