Dis koud. En donker. Vroegoggend, terwyl meeste rustig slaap. Hier waar ek stadig teen die trappe opklim en luister na die fynste geluidjie lyk die koue nag daar buite skielik heelwat meer aanloklik. Ek probeer saggies asemhaal – hel, ek probeer glad nie asem haal nie. By die laaste trap huiwer ek ietwat, links of regs? Ek besluit op regs, maar regs lewer niks behalwe leë kamers op nie. Ek laat my asem stadig uit – rondte nommer twee. Verder die gang af, tot by die toe deur. Ek ken die prosedure, weet wat om te doen. Ek haal diep asem, gaan vinnig en gebukkend die kamer binne en laat instink en opleiding oorneem. Die kamer is ook leeg.
Waar is hy?
Ek draai om. ‘n Flitslig kom stadig die trappe op. Ek wag. “Dis skoon”, sê ek. Hy knik, draai om en verdwyn weer in die donker.
Dan skielik rys die haartjies op my nek en ek weet. Dis te laat. ‘n Fout gaan my, my lewe kos. Ek draai stadig om, want vir een of ander rede weet ek hy wag om my gesig te sien. Hy staan daar en kyk vir my asof iemand ons aan mekaar wil voorstel. Sonder enige gevoel op sy gesig – met leë oë wat geen boodskap oordra nie. En ek wonder meteens wat hy in my oë lees?
Dit sal nie sy eerste keer wees nie. Ook nie myne nie, maar vir een van ons gaan dit beslis die laaste keer wees…..



