Ja, sure, dis hoe ek verwag iemand by wie jy vir ‘n diens aanklop en/of iets wil koop, jou sal begroet.  Vriendelik en hulpvaardig. Jy’s tog daar om van sy diens gebruik te maak. Of iets van hom te koop. Wat beteken: geld in sy sak.  Maar nee. Stap jy iewers in is dit asof hulle jou ‘n guns bewys om jou te help. Sy produk is SO in aanvraag dat jou aankope hom nie gaan verryk nie en sodoende voel hy ook nie sleg as hy jou sleg behandel nie.  Dit het al by verskeie plekke met my gebeur.  Maar vandag se ondervinding was weereens ‘n bewys van mense wat net ‘n werk het omdat dit betaal.  Nie omdat hy passievol daaroor is of eers net sy werk wil doen nie.  Ek meen; hy kry mos sy salaris, waarom sal hy nou uit sy pad uitgaan om jou te bedien. 

Ter voorbeeld: Ek werk in Brits (ja ek weet, room van die Noordwes Provinsie). “Anyway”, ek soek ‘n asblik op wiele.  Die goed word vervaardig in Brits se industriële gebied. Goedkoper te koop direk by die fabriek as in die dorp, sien.  ‘Skuus, ek dwaal alweer af.  So stop ek by die fabriek.  By sekuriteit sit, ag nee -wat praat ek, lê altwee sekuriteitsbeamptes op hul stuitjies en slaap.  Die tyd is 13:35.  Saggies maak ek hulle wakker om nou nie hulle siesta te versteur nie.  Hulle kyk onvergenoegd op, want wie de hel durf dan nou daardie tyd van die dag aanklop om iets te koop?!  Boek myself in en stap flink, ag nee, wat praat ek, drentel ons na ontvangs.  Ek word met sulke slap arm bewegings die pad beduie en moet mooi luister na die gemompel van aanwysings.  Ontvangs is darem wakker. Beduie my vriendelik na aankope en die kassier. Wat ook darem wakker is.  Om een asblik te koop moet drie vorms ingevul word en twee mense betrek word in die kantoor.  Ek betaal en met my arms vol papiere is ek terug na sekuriteit.  Daar het nou skielik nog ‘n persoon bygekom.  Die twee wat vroeër gelê en slaap het, lê nou nog net op hulle stoele – darem al wakker.  Die nuwe persoon vat my vorms, skree in ‘n algemene rigting een of ander taal en ignoreer my verder.  Na vyf minute kom daar ‘n ou aan met veiligheids handskoene en ‘n trollie.  Ek word mompelend verduidelik waar ek my hele familie geskiedenis moet invul, voor ek weer geïgnoreer word.  Na ‘n wyle vra ek of dit al is en of daar nog iets is wat ek moet doen voor ek my asblik kan kry.  Ek word aangekyk asof ek vra hoe ver Pluto van die son is, maar word meegedeel dat ek maar kan gaan.  Die man buite met die veiligheidshandskoene sal verder help.  Buite gekom, word ‘n asblik aanmekaar geslaan en word ek op en af gekyk asof ek hom ‘n onmoontlike guns gevra het. Ek beduie waar staan my motor. Met ‘n sug word die asblik in die motor gelaai (deur die man met die veiligheidshandskoene). En sowaar: ek kry ‘n dankie!

Goeie f….k, dit het ‘n uur geneem om een asblik op wiele te koop.  Volgende keer ry ek freakin Builders Warehouse of Makro toe! Nee wag, hulle “het nie stock nie, maar sal môre inkry”!

Fyn, sal dan maar my vullis op die sypaadjie dump – dis heelwaarskynlik baie minder moeite.

O, ja: what’s up with the gloves? Dis ‘n plastiese asblik op wiele, nie razor wire nie!

Wat hét geword van dienslewering? Of verwag ek die onmoontlike?