Ek weet nie of jy besef hoe “kômmin” jy lyk as jy onsamehangend by ‘n tafel staan en wieg op jou voete terwyl jy een sin na die ander aframmel nie. Jou kop wieg soos ‘n grashalm in die wind heen en weer terwyl jy nie mooi besef dat jou effe te klein toppie meer wys as wat as ordentlik beskryf word nie. Ek moet egter toegee: jy is vriendelik, jy lag van oor tot oor terwyl jy nie mooi weet in watter rigting om te praat nie.
Toe ek jou en jou vriendin later in die publieke toilet (van O’Hagens”) raakloop en julle gesprek oorverdowend moet aanhoor, bevestig julle vlak van dronkenskap net weereens wat ek vermoed het: julle het geen “class”
nie. Dalk moet ‘n mens julle opneem en die video die volgende dag vir julle speel. Dalk, net dalk, kry julle ook skaam vir julle gedrag. Maar ek het so ‘n vae gevoel dat ek dalk verkeerd bewys mag word.
En skielik onthou ek my St. 8 huishoudkunde juffrou se woorde: “Girls, dis beter om ‘n koek te wees as ‘n tert, want as jy eers ‘n tert is, kan jy nooit weer ‘n koek word nie”.
Van die os op die jas: Dit was nice om jou te ontmoet, nie net vir wie ek gesien het jy is nie, maar ook omdat jy sy glimlag terug gebring het. Ek hoop ek sien jou gou weer.


