Margaret Alida Koen Tuesday, May 6 2008
Uncategorized 2:38 pm
Ouma Margaret. Gebore 18 September 1919. Dis vandag ‘n week gelede dat jy oorlede is. Die laaste van my ouma’s en oupa’s. Die een wat die langste gelei het op ‘n siekbed. Wat stadig weggekwyn het tot daar letterlik net vel en been oorgebly het. Ek mis jou, maar is bly dat jou pyne en leiding verby is. Ek is bly dat jy vandag in ‘n beter plek is.
Ek weet ek was altyd jou voortrekkertjie. Die jongste van al die niggies en nefies. Jy het gesien hoe die ouer kinders nie met my wou speel nie en my nader getrek het. Skelm lekkertjies of ‘n geldjie in my hand gedruk het. Ek onthou dit - ek het dit nie vergeet nie. Net soos ek jou ook nie sal vergeet nie.
Ek dink terug aan jou kuiers by ons toe ek klein was. Die stories en rugkrap in die aand. En ek sien hoe my ma dieselfde vir my dogter doen en ek kan net hoop dat ek ook die voorreg gegun sal word om dit vir my dogter se dogter te doen. En aan jou te kan lê en dink terwyl ek ook my kleindogter se ruggie krap.
Generasie vir generasie gaan verby en ek kan net hoop dat ek ook eendag deur my kleindogter so onthou sal word.
Al my liefde
Celéste



May 12, 2008 at 8:54 am
Ek het geen ouma of oupa oor nie. Maar het sommer ‘n paar oumas ‘aangeneem’ deur die jare.
Nou sal jy begin herinnerings koester en reuke sal jou terugpluk na ‘n tyd van onthou. En soms sal die trane spontaan loop oor tye gebere in die kissies van jou hart.
Sterkte. Die wat hulle grootouers geken het, en wat kan terugkyk met ‘n glimlag, is voorwaar bevoorreg.
May 12, 2008 at 12:34 pm
jou ouma is op ‘n beter plek!
May 12, 2008 at 9:02 pm
Baie mooi herinneringe aan ‘n ouma waarvoor jy baie lief was.
Sterkte
May 13, 2008 at 2:48 pm
Ja jong, grootouers is baie spesiaal in ‘n kind se lewe. Jy moet verseker weet jy was ook baie spesiaal vir haar.
Jy sal met jou kleinkinders dieselfde wees as wat jou ouma met jou was, want jy weet wat dit vir jou in jou lewe beteken het. Gelukkig het jy baie mooi herinneringe en sal die seer mettertyd met ‘n mooi soet heimee vervang word.
Ons eerste 2 kleinkinders is dogtertjies (amper 3, nie ‘n tweeling nie). Die liefde vir hulle is regtig ‘n gevoel wat mens nie kan beskryf nie. Dis ‘n allesoorweldigende, beskermende liefde wat mens vir hul voel. Van kleins af is daar ‘n baie sterk, spesiale band tussen ons.
Sterkte en ‘n drukkie vir jou (((((Celeste))))))
June 26, 2008 at 7:25 am
Sjoe vanuit die kamers van die hart, baie eerlik en mooi (hartseer as ek terug aan myne dink) Ek het nog een ouma oor, sy het haar 80ste laas maand gevier in SA, die hele familie was daar behalwe ek, en glo my dis n groot familie.
So hartseer soos dit mag raak, bly vashou aan die goeie tye.