Margaret Alida Koen Tuesday, May 6 2008
Uncategorized 2:38 pm
Ouma Margaret. Gebore 18 September 1919. Dis vandag ‘n week gelede dat jy oorlede is. Die laaste van my ouma’s en oupa’s. Die een wat die langste gelei het op ‘n siekbed. Wat stadig weggekwyn het tot daar letterlik net vel en been oorgebly het. Ek mis jou, maar is bly dat jou pyne en leiding verby is. Ek is bly dat jy vandag in ‘n beter plek is.
Ek weet ek was altyd jou voortrekkertjie. Die jongste van al die niggies en nefies. Jy het gesien hoe die ouer kinders nie met my wou speel nie en my nader getrek het. Skelm lekkertjies of ‘n geldjie in my hand gedruk het. Ek onthou dit - ek het dit nie vergeet nie. Net soos ek jou ook nie sal vergeet nie.
Ek dink terug aan jou kuiers by ons toe ek klein was. Die stories en rugkrap in die aand. En ek sien hoe my ma dieselfde vir my dogter doen en ek kan net hoop dat ek ook die voorreg gegun sal word om dit vir my dogter se dogter te doen. En aan jou te kan lê en dink terwyl ek ook my kleindogter se ruggie krap.
Generasie vir generasie gaan verby en ek kan net hoop dat ek ook eendag deur my kleindogter so onthou sal word.
Al my liefde
Celéste


