Ek wonder vanoggend (nee, ek wonder al lank). Ek haat dit om in sirkels te praat. Ek haat dit om ’n situasie so te verwoord dat dit “hipoteties” gesien moet word. So vanoggend gaan ek iets reguit sê.

As jy vriendelik, ondersteunend en altyd beskikbaar is vir iemand (as ‘n vriend), maar die ander persoon sien iets meer in jou optredes - wat dan? Jou kuiers saam met dié persoon, julle saamwees - dit beteken vir jou niks meer as vriendskap nie, maar die ander persoon het (teen sy sin) verlief geraak (dalk selfs lief geraak vir jou) - wat dan? Moet jy nie daardie bande breek nie? Want in der waarheid lei jy daardie persoon onder ‘n waan.  Jy het dalk al jou gevoelens mooi verduidelik, maar jou optrede gee die ander persoon vals hoop.  Dalk is jy maar net ‘n goeie mens, maar die ander persoon sien dinge daar wat nie daar is nie. 

Ek verstaan van vriendskap en al daardie dinge, maar ek verstaan ook van verlief raak en lief raak vir iemand wat (omdat hy so ‘n goeie mens is) nie kan raaksien wat hy aan jou doen nie. Nie ten volle besef dat hy jou eerder kwaad as goed doen nie.  

Die keuse is joune om te maak.  Maar ‘n “one way” love het nog selde in ‘n “happy ever after” verander.

En wanneer weet jy of die verhouding nie gebore is uit alleenheid, onsekerheid, eensaamheid of bejammering nie? Die gevoelens raak later so deurmekaar - dis dan wanneer jy jouself oortuig dat jy dié persoon lief het. 

Die dag as jy sonder hierdie persoon kan leef, sonder dat jy hom nodig het, sonder hom gelukkig kan wees - dan is dit die tyd om weer saam te kom en te sien of daar nog IETS is.  As jy hom nie meer nodig het om jou volkome te laat voel nie, dan eers kan jy sekerheid oor jou gevoelens hê.