Karate vs Ballet Wednesday, Jan 30 2008 

My vyfjarige dogtertjie het met karate begin.  Nou het sy uitgevind dat haar maatjie nie karate gaan doen nie, maar alreeds ‘n hele paar ballet klasse agter die rug het.  Nou wil myne nie meer karate doen nie, maar ballet, want die maatjie doen dit dan!  Ballet is drie middae ‘n week. Karate een middag.  Ek dink drie middae ‘n week vir ‘n vyfjarige is effens te veel.  Sy het nog nooit eers iets genoem van ballet nie, maar nou is dit skielik wat sy wil doen!!

 Wat nou gemaak?

Probleme met die “ex” Tuesday, Jan 29 2008 

f7.jpg

Die meeste blogs wat ek lees het die skrywer/es probleme met die teeoorgestelde geslag, gewoonlik die “ex”. 

Hierdie is spesiaal vir diesulkes. 

Girl Power Friday, Jan 25 2008 

Girl Power

I rest my case.

Eating my words Wednesday, Jan 23 2008 

Wel, ek moet vanoggend in skaamte dit noem dat (nadat ek gister op Louisa se blog gaan “brag” het dat “load-shedding” nie deel is van my lewe nie) ons vanoggend in ‘n pik donker kantoor ingestap het. Ek vra nederig om verskoning en sal nie weer vir “Murphy” kans gee om hom te verlustig aan my sinnelose stellings nie. Gelukkig is die krag nou weer aan en kan ons werk.

Huweliksherdenking Tuesday, Jan 22 2008 

Vandag is my (en “hubby”) se 8ste huweliksherdenking.  Ons ken mekaar reeds sedert 1995 en het in 2000 die knoop deurgehak. 

Hier is agt jaar in ‘n neutedop:

Sewe sakke sout verder, ‘n “honeymoon” oorsee, ‘n dogtertjie later, “post-partem depressie” na haar geboorte, twee huise gekoop, een huis verkoop, hou een huis, besig om ‘n ander huis te bou, twee motors verkoop, een nuwe motor & een nuwe bakkie gekoop, drie honde aan die dood afgestaan, ‘n paar siektes en dood in die families aangedurf, ‘n afwesigheid van 1 jaar toe “hubby” in Afrika gaan werk het, dogter skool toe, ‘n hele paar vakansies saam, ‘n paar krisisse deurgewroeg, voetganger deur “hubby” doodgery, daaglikse stryery terwyl ons bou oor keuse van verf/teëls/ligte, stress by die werk, opvoeding van kind -

maar ons staan nog steeds sterk!!  Mag die volgende 8 jaar rustiger wees!!! 

Heidi Monday, Jan 21 2008 

Heidie het ‘n hele ruk terug op Kyk-Net begin.  Ek was baie bly, want toe kon my kind ook daarna kyk.  Toe Heidi destyds gewys het, was ek 5. Noudat dit weer wys is my kind 5.  Verlede week se episode was die een waar Heide se tante haar by haar oupa kom haal het en na Frankfurt geneem het.  ‘n Vreemde ding gebeur toe.  Toe ek dit destyds as 5 jarige gesit en kyk het, was dit nie vir my so erg nie.  Verlede week toe ek daarna kyk, tjank ek my omtrent dood. Nodeloos om te sê, begin my dogtertjie toe ook saam met haar ma huil omdat Heidi weggaan.  Ek kry haar oupa inniglik jammer, want hy het dan nou sy hart vir haar oopgemaak en nou kom haal hulle weer vir Heide, en vir Peter wat sy maatjie “verloor” en Peter se blinde ouma wat nie eens lekker weet wat aangaan nie. Ek weet Heidi kom weer terug (saam met Klara, ens.ens) en my kind het selfs die DVD van die laaste 7 episodes waarin almal “happily ever after” bly.

Raak ‘n mens sag met die ouderdom? Of is dit omrede jy meer kan identifiseer met ‘n situasie?

In elk geval, ek wonder wat het van Heidi geword? Is sy en Peter getroud? Is Klara met ‘n Switserse bankier getroud? As gevolg van die skoon Switserse lug en water moet Heidi se oupa tog sekerlik nog lewe, al moet hy seker al in die 9o wees?  Het juffrou Rottenmeier darem al geleer om te “chill”? Snookie(die bok) en Josef(die hond) se agter-agter klein-gediertes speel seker lekker bedags in die alpe?

Ek glo ‘n storie soos Heidi sal selfs weer wys wanneer my dogtertjie se dogter 5 is - dis tydloos en gryp die “essence” van kindwees so volkome saam.

  

Happy Birthday!! Friday, Jan 18 2008 

Ek weet ek is laat, maar ek weet ook dat jy my nie sal kwalik neem nie!!! Veels geluk met jou 5de verjaarsdag (gister) my engeltjie. Ons is almal baie lief vir jou en hoop jou jaar vorentoe is net so lekker soos tot dusver.  Ek hoop jy het gister se rondloop saam met mamma en ouma geniet, die uiteet saam met mamma en pappa en al die liefde en geskenkies wat jou omring het!!

Sentiment Wednesday, Jan 16 2008 

Ek is baie sentimenteel.  Ek het speelgoed van 30 jaar terug wat nog steeds goeie herinneringe vir my optower.  Ek het erfstuk juwele van my ouma grootjie. En glasware van my ouma wat uit Engeland kom wat sy as trougeskenk gekry het.  Ek het my ma se klavier wat sy gekry het toe sy 10 jaar oud was. 

My pa het vir my dogtertjie ‘n sweetpak gekoop vir haar verjaarsdag môre en ek weet nou al dat ek NOOIT OOIT daardie sweetpak sal verkoop nie, want dit het reeds ‘n sentimentele waarde vir my.

Die vraag wat my man my altyd vra is of ek ooit van hierdie artikels sal verkoop as ek sou MOES?  Veronderstel daar is nie meer geld nie, maar my ouma se bord uit 1945 kan ‘n paar rand inbring en ons deurbring vir ‘n maand? Of die verkoop van my juwele kan ons dra vir ‘n paar maande? Of die ding waarmee hulle koeëls in 1914 gesmelt en gemaak het en wat my oupa grootjie s’n was (en wat nou iewers in ‘n kas lê) kan ons help om te “survive”?

Dis ‘n moeilike een, want ek is erg sentimenteel en baie geheg aan my goed. Veral dié wat ek ge-erf het, want dis deel van my geskiedenis.  Deel van die mense wat voor my hier was. Ek weet dis aardse goed, maar dis MY aardse goed. En so sal ek dit aan my dogter weer oordra en hopelik oor nog 100 jaar sal iemand dit met dieselfde liefde oppas.

Ek hoop nie my sentimentaliteit word ooit getoets nie, want ek weet vandag nie wat ek sal doen nie……….

Eerste dag op skool Wednesday, Jan 9 2008 

My dogtertjie is vandag vir die eerste keer skool toe (Graad RR, 4-5 jariges).  Sy het nie gehuil nie, het ‘n maatjie vandag gemaak en is bereid om weer môre terug te gaan. Meer as wat ek verwag het, maar waarvoor ek gehoop het.  My “baby” raak groot en ek moet haar die wêreld instuur sodat sy op haar eie voete kan staan eendag. Dis “sad”, want ek maak haar groot met die gedagte “deep down” om haar eendag op haar eie te laat gaan. Ek wil nie nou al daaraan dink nie, ek wil elke dag saam met haar geniet, want die tyd is so kort en te vinnig verby.