Vakansie Thursday, Dec 20 2007 

Ek gaan vandag met verlof!! Ons bly ongelukkig by die huis, behalwe vir die naweek wat ons ‘n troue in Kimberley aanhet. ‘n Geseënde Kersfees en voorspoedige 2008 vir almal.  Mag dit ‘n goeie jaar wees en baie beter as 2007 (myne was maar by tye rof en wens ek dit beslis nie weer oor nie).

Geniet dit wat julle gaan doen en saam met wie julle dit gaan doen!!

Tot 2008!!!

SLANG!!! Tuesday, Dec 18 2007 

Hier is ‘n slang iewers in ons kantoor “on the loose” - letterlik!!! Die ding was Vrydagmiddag bo-op my baas se tafel en terwyl ons gillend in rigtings gespat het en mans probeer bel het, het die ding “verdwyn”.  Die dame wat hom moes dophou - wel kom ons sê maar net: sy het nie!!!

My een groot vrees in die lewe: slange!! Vandat my broer ‘n stuk groen rubber tuinslang vanuit ‘n boom op my gegooi het (op die ouderdom van vier of vyf) het ek hierdie verskriklike vrees vir die goed.

Vandag kan hulle maar net mooi NIKS van my verwag nie, want ek is op die uitkyk vir mnr. lang, dun, groen slang!!!!

Iemand help!!!!!

Mans in bakkies Thursday, Dec 13 2007 

Ek weet ek het al hieroor geskryf, maar vanoggend kook my bloed alweer.  Mans in bakkies (vier van hulle om presies te wees) het vanoggend amper my lewe gekos.  Die rede?  Hulle JAAG. Soos maniake. Hulle gaan voertuie verby sonder om te dink en verwag dan dat jy iewers moet plek soek om uit te swaai vir hulle onnosele optrede om ‘n kop-aan-kop botsing te vermy.

Ek weet almal is nie so nie, maar waarom ry mans so aggressief? Hoekom altyd jaag? Staan dan vroeër op as jy haastig is, verdomp!

Dit wil voorkom asof hulle dit nie kan hanteer dat iemand voor hulle ry nie. Dis dan wanneer hulle (sonder om aan ander se veiligheid te dink) sommer net verbygaan, want die motor voor hulle is na hul mening net te stadig.

Mans in bakkies wat voor my indraai, wat op gevaarlike plekke verbygaan, wat so naby aan jou ry, dat as jy vinnig moet rem trap hy reg bo-oor jou gaan ry met sy bakkie. Hulle jaag. Hulle ry onverskillig en nie een van hulle dink hulle bestuursvermoë is te bevraagteken nie.  

Is dit net my ondervinding, of is dit ‘n algemene tendens?

“There, but for the grace of God, go I” Wednesday, Dec 12 2007 

Karwagte en bedelaars by robotte.  Hoekom voel ek altyd skuldig as ek hulle raakloop? 

Ek is dankbaar vir dit wat ek in die lewe ontvang en besef maar al te goed dat dit net sowel ek kon gewees het wat daar staan. 

Ek raak vies, want ek kan beslis nie vir ELKE karwag en bedelaar R5-00 gee nie. Ek besef ek het baie meer as party mense, maar ook baie minder as heelwat ander.  Miskien kyk iemand na my en dink, “there, but for the grace of God, go I”. Ek weet nie - dis sekerlik ‘n moontlikheid.

Maar waarom voel ek dan soos ‘n skurk as ek nie vir die vrou/man by die robot geld gee nie? Hoekom voel ek, ek gee te min vir die karwag? (ek moet nog by ‘n klomp plekke omgaan en waar ek heel moontlik by elke plek weereens moet “betaal” vir my kar om ”opgepas” te word).

Ek het eendag dit sterk oorweeg om ‘n boek te skryf oor boemelaars en/of bedelaars.  Om hulle storie neer te pen.  Oor te hoor waarom hulle is, waar hulle is. Hoe hulle daar gekom het en waarom daar geen ander uitweg vir hulle is. 

Ek weet net eending: Ek voel skuldig as ek hulle sien en nie help nie, maar ek raak ook vies omdat hulle my in daardie posisie ”indwing”.

Is hulle eerlik of “bullshit” hulle my ten opsigte van hul situasie?

Huisbou Wednesday, Dec 5 2007 

Ons is tans besig om ‘n huis te bou.  Dit voel al ‘n ewigheid, siende dat ons die erf in Junie 2006 gekoop het.  Wat my verstom van die kontrakteurs is die volgende.  Oor twee weke sluit hulle.  ‘n Mens sou nou dink dat hulle ‘n bietjie spoed sou aansit om klaar te maak, maar nee.  Dis ook nie dat ons hulle per dag betaal nie, so die “go-slow” maak nie sin nie.  Ek moes die installasie van my kaste en matte al twee keer uitskuif (ek het dit nou maar tentatief WEER uitgeskuif na begin Februarie - dalk moet ek dit eerder einde Februarie maak). In elk geval, in die afgelope week het dit hulle die HELE freakin week geneem om “cornice” op die boonste vloer te installeer. “Cornice”. Een week.  O, ja, gee hulle dit toe - hulle het ook vyf deure van die een kant van die garage na die ander kant van die garage geskuif. Bravo!!! (dalk moet ek ‘n prestasie bonus oorweeg?)

Ek is moedeloos.  Ek het al alles probeer. Geld teruggehou, geld te vroeg oorbetaal, hard gepraat, gedreig, mooi gevra, sarkasme gebruik, maar NIKS help nie. 

My afleiding is dus as volg: Daar is eenvoudig net nie meer trots of die nodige vakmanskap waarmee die hedendaagse kontrakteur werk nie.  En dit is “sad”. En frustrerend.

My kontrakteur het vroeg al belowe om voor Desember klaar te wees, want ons wou voor Kersfees intrek, nou lyk dit eerder of ons darem voor Paasfees sal intrek.  (Dalk het hy my verkeerd gehoor!!).

My raad aan almal daarbuite: Moenie bou nie - NOOIT, OOIT!!!

Happy Anniversary! Tuesday, Dec 4 2007 

My ouers is vandag 42 jaar getroud!! So, almal wat ooit gewonder het: nie ek of my broer is naastenby buite-egtelik nie (daarvoor getuig my 27-jarige ouderdom). 

Baie geluk julle, ek weet nie hoe julle dit doen nie, maar ek weet nie of vandag se generasie mee die deursettingsvermoë het vir so ‘n lang verhouding nie.  Ek kan maar net glo en hoop dat myne ook eendag daar sal uitkom. Mag julle vir ons nog lank ‘n voorbeeld wees van hoe ‘n mens op jou tande kners en mekaar verdra sonder om mekaar aan te rand!

Padwoede & Kersfees Monday, Dec 3 2007 

Ek ry vanoggend werk toe, Josh Groban se nuwe Kersfees CD, “Noël” rustig in die agtergrond en probeer naarstigtelik die “Christmas feeling” kry.  Ek was amper daar, toe twee idiote reg voor my indraai, vanuit ‘n lekker nat grondpad en my Vrydag skoongewaste kar vol modder spat.  Die windskerm lyk asof ek deur ‘n swerm moddervliegies gery het. En nie eens Josh se “pa-rampa-pam-pam-rampa-pam-pam” kan my kalmeer nie.  En dis terwyl ek nog kook en wens ek het “esp” om die dom moroon hier voor my se wiele te laat uitval, toe snit nommer drie op die CD begin met stemme van soldate (mans en vroue) uit Irak wat kerswense aan hulle families tuis gee.  ‘n Ma wat nie Kersfees saam met haar vierjarige dogtertjie tuis kan vier nie. En skielik sit die trane sommer so vlak hier in my oë, omdat my dogtertjie ook vier is en ek nie myself kan indink hoe ek oorsee moet veg vir my land, terwyl ek Kersfees deur my dogtertjie se oë mis nie.  En skielik is die idioot hier voor my nie meer my woede werd nie, want darem spandeer ek Kersfees saam met my dogtertjie, my man en familie.