Hy’s terug Tuesday, Jan 6 2009 

Die uil. Julle weet. Die een van die 26e Desember. Vanoggend 01:07 skrik ek wakker na ‘n nare nagmerrie*, net om tot die besef te kom dat die freakin uil alweer iewers sit en hoe-hoee! Dié keer darem nie op my dak nie, maar iewers naby.  En so lê ek toe wakker en begin dink. Ek meen, jou dag is tog uitgesit vir jou die dag toe jy gebore is. Of so glo ek.  Waar en wanneer ‘n uil dan nou sit en hoe-hoee maak tog dan seker nie saak nie.  Die oumense het die goed skoon weggeskiet van hulle dakke af, maar ‘n vriendin van my wat op ‘n plaas bly, sê hulle het soveel uile op die plaas dat dit nie snaaks is nie.  Nou hoe nou? Sy is nie uitgefreak elke oggend nie. Dit sal tog sekerlik nie help om uile weg te wens nie. Nes dit ook nie sal help om te smeek of te bid en te vra vir uitstel op JOU DAG nie. Jou tyd is jou tyd en niks kan dit verander nie. Dalk moet ek maar net die uil lê en luister en dankbaar wees vir die tyd wat ek tot dusver gegun was.

* Ek was vasgevang in ‘n klein vertrekkie, en orals waar ek trap het ek bloedspore getrap.  My pa was ook in die vertrek saam met my, en waar hy draai spat daar net bloed spikkels orals teen die mure en op die vloer.  Ek het gegil, maar geen geluid wou by my mond uitkom nie. Ek het probeer om hulp skree, maar ek kon nie praat nie en bloed het net bly orals spat in sukkel spikkels.  Dit was regtig ‘n aaklige nagmerrie en die uil het nie veel gehelp om my daarna weer te laat slaap nie.

Ek hoop ek droom vanaand van ‘n eiland paradys vol aantreklike manne wat net sjokolade aandra……

*sug*

Bygelowe Friday, Dec 26 2008 

Vanoggend 02:12 word ek wakker. ’n Uil het besluit om hom te kom tuis maak op my huis se dak. Ek HAAT die gehoe-gehooe van ‘n uil. Ek is byna seker ek het 25 jaar laas die gehou-hooe van ‘n uil op ons dak gehoor en twee dae later is my oupa oorlede.  So loop ek die hele huis vol, buite op die stoepe opsoek na uil se kind om hom te jaag, maar al wat ek sien is uil. Ek gaan lê maar later weer, maar kort-kort hoe-hooe die freakin uil. Ek staan weer op, gaan weer uit en WRAGTIG (en nou lieg ek NIE), ‘n freakin swart kat met vier wit pote loop oor die pad so ‘n ent van ons huis af.  As die uil weer vanaand op my dak sit, maak ek my man wakker en ons soek die ding tot ek hom kan wegjaag.

Glo jy in bygelowe? Ek worry nie om onder deur ‘n leer te loop nie. Ek vrees nie Vrydag, die 13e nie. Maar ek sit nie my skoene op ‘n tafel nie (dit bring glo ook dood) en soos reeds gesê, HAAT ek ‘n uil se geluid in die nag.  ‘n Swart kat in die dag wat my pad kruis, pla my ook nie veel nie – behalwe in die konteks van my nagtelike ondervinding.

Steek daar waarheid in die oumens stories, of was dit fabrikate om kinders wat stout is, bang mee te maak? Hoe dit ook al sy, ek sweer as daai uil weer vannag my dak kies, gaan hy beslis die dooie een wees.

“Malman doesn’t need to talk” Friday, Dec 19 2008 

So ‘n paar weke gelede kom die groot, geel “M” toe uiteindelik dam toe. Die eerste aand is BESIG, BAIE BESIG. Dis asof die dam vir die eerste keer die “M” ontdek het.  In elk geval, ons “order” word foutloos uitgeoefen en so wonder ons toe vir hoe lank ons hierdie fantastiese diens gaan ontvang.

Ons het vanaand ophou wonder.

Needless to say, was die “order” nie so lekker reg nie.  Wat ons egter laat besef het dat die groot vriendelike “M” se werkers nie meer so lekker vriendelik is nie, is die volgende. Elke ouer weet dat met elke “happy meal” daar ‘n speelding is.  Tans is dit die karakters van “Madagascar”.  En hulle praat as jy hulle skud.  Vreeslike oulike goedjies vir vyfjariges….. In elk geval, die “Malman” (dis nou die giraffe in die storie) wat Cat toe vanaand deur die “vriendelike” tannie gegee word, word geskud en geskud, maar al wat wil praat is Malmac. Ek versoek toe vriendelik dat ons ‘n ander Malman kry – een wat praat, want wat is dan nou so oulik aan ‘n nie-pratende giraffe. Dis toe die vriendelike tannie ons kap: “Malman doesn’t need to talk”. 

Dis toe dat ek en my man sommer so gelyk begin lag. I, mean really. “Malman doesn’t need to talk”. 

Ons het darem ‘n ander pratende Malman gekry, maar ek dink dis veilig om aan te neem dat die fantastiese nuwe diens, amptelik sy g@t gesien het.

Ho!Ho!Ho! Thursday, Dec 4 2008 

Wat gee jou werk jou hierdie jaar as ‘n kersgeskenk? Net jou bonus? Dalk ‘n ietsie ekstra? ‘n Geskenk en of geskenkbewys? Watter tipe jaareindfunksie het julle (indien ooit)? Word daar deesdae nog iets teruggegee deur die werkgewer aan sy werknemers? Of is die ekonomiese tye maar orals swaar.

Ek hoor vandag van ‘n firma wat hul dames vir ‘n hele paar beauty therapies stuur (massage, scrub ens.ens.).  ‘n Ander firma waarvan ek weet neem die naweek sy personeel na ‘n bosveld oord toe vir so ‘n bietjie saam kuier en ontspanning.  ‘n Ander firma gee kleiner geskenkies in die vorm van geskenkbewyse van so R100 elk en/of geskenkies van dieselfde waarde.

Dit hang sekerlik af van die grootte maatskappy waar jy werk en die tipe besigheid waarin jy jouself bevind, maar is dit regtig nodig van ‘n werkgewer om hierdie tyd van die jaar geskenke uit te deel (bo en behalwe bonusse)?

Dis nie meer belangrik nie Woensdag, Nov 26 2008 

Ek sit vanaand weer so ‘n bietjie en blog-hopping doen, siende dat daar nie veel op TV is nie. Ek bekommer my oor my pa wat gewig verloor, bleek en moeg daar uitsien en vandag vir my “oud” gelyk het.  Hy gaan môre vir bloedtoetse en ek hoop alles gaan ok wees. Ek is “sad” oor iets wat met iemand baie naby aan my gebeur het en waaroor ek geen beheer het nie. Ek kan nie verstaan hoekom iemand ‘n blog skryf wat ander aanval oor ‘n onskuldige opmerking nie. Ek kan nie verstaan hoe iemand so te kere kan gaan oor iemand anders se opinie nie – dis tog sekerlik net ‘n ander persepsie as jou eie. Ek wonder hoekom so baie van die ou bloggers nie meer so gereeld blog nie. En ek wonder hoekom ek nog soms blog?  Stel die ander bloggers werklik belang in jou lewe of in dit wat jy te sê het?  Gesiglose skrywers wat hul eie mening op hul eie blogs die lig laat sien – stel hulle werklik belang of post hulle net by jou met die hoop dat jy na hulle blog sal gaan en daar sal post?  Post jy iewers met die hoop dat iemand na jou site sal kom, of stel jy werklik belang? Beteken jou comment veel meer as die hoop dat daardie persoon jou site sal kom besoek? Soms twyfel ek.  As jy iets op die hart het, deel dit met die mense na aan jou.  Waarom dit deel met vreemdelinge wat nie werklik ‘n idee het van wie jy is of wat die omstandighede is nie.

Blogging, nes Facebook is totally overrated. Wat iets beteken is menslike kontak, persoonlike vriende, ‘n eggenoot wat luister en tyd saam met die mense vir wie jy lief is.

Want glo my, die helfte van die ouens wat jou blog lees, voel ‘n veer vir jou geluk of tragedie.

Umhlanga, heerlike Umhlanga Saturday, Nov 15 2008 

Reg, ons is sopas terug van ‘n heerlike week in Umhlanga, die weer het baie mooi saamgespeel en almal het dit vreeslik baie geniet.  Saam met my vakansie het ek terug gebring ‘n heerlike ou verkoue en verstuite vinger.  Laasgenoemde het ek opgedoen toe ek en Cat by een van UShaka World se slides afgekom het en dinge so effe rof geraak het. Die verkoue – wel, seker by een of ander kind wie sy kieme in my rigting geblaas het.

Gistermiddag het ons so ‘n blits storm beleef van sowat 5 minute.  Twee van die hotel se sonsaambrele het op die hotel langsaan se derde verdieping te lande gekom in die wind.  En dit was die enigste reën wat ons in die dag beleef het by die see. Ons velle is lekker gebrand en die proses van vervelling het alreeds begin (jippie, ek hou nogals van die brandsiek-effek)…..

Nou ja, Maandag is dit terug werk toe, waar ‘n hele tafel seker vir my onder die papiere lê en wag!

Ek dink ek het ‘n vakansie nodig.

Self ondersoek Woensdag, Nov 5 2008 

Iemand het eendag gesê dat jy jouself moet omring deur mense soos wat jy graag sal wil wees. Soms werk dit net nie so lekker nie.

Ek het vandag met iemand gesels wat ek amper 17 jaar laas gesien het. En in ons gesprek herinner hy my toe aan die persoon wat ek destyds was en met ’n skok besef ek dat ek verander het. VREESLIK baie verander het.  Weens gebeure, weens persone, weens keuses, weens myself. En meteens mis ek die persoon wie ek toe was. 

Ek wens ek het in sekere opsigte nie verander nie. Ek wens daar was nog ‘n deel van my wat daardie persoon was. Kan ‘n mens weer terug verander na wie jy was?

Dankie dat jy my vandag weer herinner het wie ek was – wie ek wou wees. Jy het my baie gegee om oor te dink (nes destyds) en hopelik vind ek darem nog iewers hier binne-in my, ”my ou self”.

‘n Tweede kans Woensdag, Oct 29 2008 

Dis koud. En donker. Vroegoggend, terwyl meeste rustig slaap. Hier waar ek stadig teen die trappe opklim en luister na die fynste geluidjie lyk die koue nag daar buite skielik heelwat meer aanloklik.  Ek probeer saggies asemhaal – hel, ek probeer glad nie asem haal nie.  By die laaste trap huiwer ek ietwat, links of regs? Ek besluit op regs, maar regs lewer niks behalwe leë kamers op nie. Ek laat my asem stadig uit – rondte nommer twee. Verder die gang af, tot by die toe deur. Ek ken die prosedure, weet wat om te doen. Ek haal diep asem, gaan vinnig en gebukkend die kamer binne en laat instink en opleiding oorneem. Die kamer is ook leeg. 

Waar is hy? 

Ek draai om. ‘n Flitslig kom stadig die trappe op. Ek wag. “Dis skoon”, sê ek. Hy knik, draai om en verdwyn weer in die donker.

Dan skielik rys die haartjies op my nek en ek weet. Dis te laat. ‘n Fout gaan my, my lewe kos. Ek draai stadig om, want vir een of ander rede weet ek hy wag om my gesig te sien. Hy staan daar en kyk vir my asof iemand ons aan mekaar wil voorstel. Sonder enige gevoel op sy gesig – met leë oë wat geen boodskap oordra nie.  En ek wonder meteens wat hy in my oë lees?

Dit sal nie sy eerste keer wees nie. Ook nie myne nie, maar vir een van ons gaan dit beslis die laaste keer wees…..

Iets-nie-san-shie-gô Tuesday, Oct 28 2008 

Terwyl ek toekyk hoe my dogtertjie haar shotokan kata oefen wonder ek hoe enige mens by sy of haar volle verstand vyfjariges karate kan leer.  Dit verg moed. Baie moed. Die vertrek weergalm van haar kata-kreet saam met elke beweging, terwyl sy ernstig vir haarself in die spieël kyk om seker te maak dat die regte beweging (of wat hulle dit ookal noem) gedoen word saam met die regte kreet.

Oormôre is dit ballet. Dan sit ek weer en kyk hoe sy fyntjies op haar toontjies rondtrippel en vlinders in die lug vang. Hoe sy rooikappie en die wolf woordeloos dramatiseer en haarself daarin uitlewe. En ek wonder hoe enige mens by sy volle verstand vyfjariges ballet kan leer. Dit verg ook moed. Baie moed.

En dan kom die besef dat sekere mense daarvoor in die wieg gelê is. Om kindertjies geduldig te leer van karate houe en ballet posture. En ek haal my hoed af vir hulle. Vir elke iedere en een wat met geduld kindertjies iets nuut in die lewe leer.

Nou wonder ek net hoekom my kind soveel soeter by hulle is as by my, want die kind wat hulle beskryf in hulle klasse, raak iewers verlore tussen die skool en die huis! :roll:

Vleipaddas, tarentale, kraaie en die haas Maandag, Oct 27 2008 

Asof dit nie genoeg is dat die vleipaddas die hele blêddie nag hulle koor oefeninge moet doen nie, het die tarentale nou opslag besluit dat hulle ook hul Kersspele wil begin oefen.  ‘n Stuk of tien kom dan vrolik op ons muur sit en “serenade” ons so vanaf vier in die oggende.  Vanoggend het kraai besluit dat tarentaal se kind op sy gebied oortree en het luidkeels vanaf ‘n ander erf die tarentale sit en uitkryt. 

Dis toe dat ek besluit, genoeg is genoeg en wou net die spulle verwilder toe ek die mal haas gewaar.  Die einste haas wat kort-kort op my grasperk kom sit en my huis aanstaar.  Die een met die lang ore en glasige oë wat vir my deur my venster sit en aanstaar.  Vanoggend toe staar ek maar terug en wonder by myself wat de hel die haas se storie is. En so kyk ek en haas vir mekaar - vier uur in die oggend terwyl die kraai op die tarentale skree en die tarentale bo die vleipadda koor probeer uitstyg.

En dis toe dat ek besef dat haas nie mal is nie, hy wil inkom! Hy smeek my met sy glasige ogies om tog asseblief die deur oop te maak sodat hy die kakkefonie van buite kan ontsnap.

Wel haas, die klank binne is net so erg soos buite - dis seker hoekom hulle dit ‘n eco park noem. En dis seker hoekom jy maar rustig aan my grasperk mag kou en hoekom die tarentale sommer so verby my swembad en oor my voorstoep kan wals.  Hoekom die kraai voel dat hy ook ‘n plekkie op my muur moet kry en die vleipaddas nie skroom om ‘n bietjie sagter te kwaak nie. En hoekom die zebra’s die bure se boom blare afkou en die bokke op my sypaadjie kom bollie.

PS: Haas, my man en Cat vra om verskoning omdat hulle jou so laat skrik het gister op die wandelpad – jy het blykbaar gehol dat jou ore so plat lê!

   

Volgende Blad »